Omgeebediening

Omgeebediening

Dion Soiné is die algehele kontakpersoon. Jy kan hom gerus skakel by:
079 511 5447.

Doelstellings

  • Verligting te bring waar nood ge-identifiseer is;
  • Uitreik na basiese mense behoeftes;
  • Inwin van inligting waar nood is;
  • Bedryf van aktiwiteite wat bystand en hulp verleen aan organisasies en persone;
  • Logistiese bystand verleen vir ander bedieninge, en;
  • Reël van strukture en geleenthede ter bevordering van die Here se werk.

Die Omgeebediening, bestaan uit die volgende kommissies en aksiegroepe:

1. Barmhartigheid
Hierdie groep bestaan hoofsaaklik uit diakens wat hulle beywer vir die spesifieke behoeftes van die gemeenskap. Hul raak betrokke by die nood van instansies soos Huis Bermuda, die Christelike Maatskaplike Raad (CMR), Herfsland en Allen Park. 

2. Huisgroepe
Daar is verskillende huisgroepe, wat weekliks vir bybelstudie, gebed en omgee (na binne en buite) bymekaarkom. Ons wil jou graag aanmoedig om ook as geestelike leier van `n huisgroep betrokke te raak. Navrae: Schalk Basson 082 775 6269

3. Siekesorg. Hierdie groep vergader Donderdagoggende om 08:00, saam met leraars by die kerk. Daar word voorbidding vir elke sieke, sy/haar gesin, die mense wat hulle bystaan, die versorgers, die medici – almal wat betrokke is, gedoen.  Navrae: Anna Coetsee 072 407 6788

4. Nuwe intrekkers
Indien jy ‘n passie het om betrokke te raak by die verwelkoming van en omgee vir nuwe intrekkers, is hierdie aksiegroep net vir jou.Navrae:Gert Reynolds, 082 628 3383.

5. Vrieskasprojek            
Ons bedien behoeftige mense op `n daaglikse basis met `n heerlike bord kos.  Deur voedsel tuis in `n bakkie, wat ons voorsien, te vries,  kan jy `n bydrae maak tot hierdie  liefdesdiens. Navrae: Didie Roux - 083 718 8584

6. Area-omgee-konsep
Ek as lidmaat in die kollig! “Area vs Blokmodel”
Die bou van verhoudings, is die kern van ons gemeente se missie en ons het alreeds baie sukses met die implementering van huisgroepe bereik. Daar is egter ‘n groot deel van ons gemeente wat nie betrokke is by huisgroepe nie, wat die uitreik na en omgee vir mekaar moeilik maak. Om dié onderlinge omgee vir lidmate uit te brei, is ‘n area-konsep in ons gemeente ontwikkel. Dit behels hoofsaaklik die aanstel van koördineerders in spesifieke geografiese areas. Elke koördineerder is dan betrokke by: die reël van saamkuiers, die gee van verjaarsdagwense, die fasilitering van gebedsversoeke en die verwelkoming van nuwe intrekkers. Daar word ook van hierdie koördineerder verwag om bewus te wees van waar daar in ‘n spesifieke area siekesorg en sterwensbegeleiding benodig word en om ook hulpverleningsversoeke (alimentasiegevalle) aan die betrokke bediening te kommunikeer. Die Vrouediens se bestaande area-leidsters reël steeds verversings by begrafnisse.

Die area-koördineerder sal egter nie effektief kan funksioneer sonder die aanstelling van ‘n span mense in sy/haar area om saam met hom/haar te werk nie.
Hoe werk die verdeling van areas?
Lidmate is n.a.v. hulle woonadresse in geografiese areas ingedeel:
1.    Lidmate in huisgroepe: Area 0
2.    Areas binne die gemeente se geografiese gebied: Areas 1-100
3.    Areas buite die gemeente se geografiese gebied: Areas 101>

In watter area is ek en wie is my koördineerder? Skakel gerus die kerkkantoor by 011 391 1343.
Wat gebeur met areas waar daar nie `n area-koördineerder is nie? Omgee vir mekaar is ons almal se verantwoordelikheid en ons vertrou op die Here om voortdurend aan ons die regte mense te gee.

Vir enige verdere vrae, is u welkom om met Dr. Danie Malan (0827849338) of Pieter du Preez (0824905985) of Dion Soiné (0795115447) of Gert Reynolds (011 391 8183) te skakel.